Wes-Beeld
Wêreldstad, wêrelderfenis
Johannesburg se goudstorie het aan die Wes-Rand begin. Die eerste myn was Confidence Reef en is in die 1880's in die huidige Roodepoort gesink. Die goud het net 'n jaar of wat gehou en die hoofrif is 'n paar jaar later op die plaas Langlaagte – naby wat vandag die middestad van Johannesburg is – ontdek. Uit die stowwerige myndorpie wat ontstaan het, het 'n wêreldstad ontwikkel.
Die storie oor die evolusie van die mens is selfs merkwaardiger en veel, veel ouer. In 'n landskap van vaalbruin koppies, verspreide struike en yl bome, tussen Oaktree, Hekpoort, Broederstroom en Lanseria, lê die Wieg van die Mensdom. Fossiele en klipgereedskap van miljoene jare oud is hier in 'n reeks dolomietgrotte ontdek. Dit wys dat die voorsate van die moderne mens in dié omgewing gewoon het. Dit is hier, sover bekend is, waar mense die eerste keer vuur leer gebruik het.
Die fossiel van 'n byna volledige Australopithecus africanus-skedel, van die sogenaamde Mev. Ples (of dalk Mnr. Ples), is in die 1940's in die Sterkfonteingrotte ontdek. Die gebied is in 1999 'n Wêrelderfenisgebied verklaar.
Ekonomie
Die eerste goud in Johannesburg is aan die Wes-Rand gemyn. Foto: Lucky Maibi
Goud en uraan is die belangrikste bydraers tot dié streek se ekonomie. Western Deep is die wêreld se diepste mynskag – 3,6 km. Met behulp van moderne tegnologie word goud ook uit ou mynhope herwin.
Landbou is van groot belang en ontluikende boere word ondersteun deur mynmaatskappye sowel as die staat. Nomvula Mokonyane, die Gautengse premier, het in 2012 die vestiging van die Wes-Randse Landbou-opleidingsinstituut in Magaliesburg aangekondig.
Die toerismebedryf ontwikkel steeds, verskaf werk en maak 'n aansienlike bydrae tot die gebied se ekonomie.
Die Lanseria- internasionale lughawe bied 'n alternatief tot die groter O.R. Tambo- internasionale lughawe aan die Oos-Rand en die gebied het 'n netwerk van goeie deurpaaie sowel as sekondêre paaie.
Die Wes-Rand word deur sy eie distriksmunisipaliteit beheer en sluit Mogale City, Randfontein, Westonaria en Merafong in, maar word nietemin as deel van die Groter Johannesburg metropolitaanse gebied beskou en deel dieselfde telefoonskakelkode (011). Roodepoort en voorstede verder oos is deel van die Johannesburgse metro-munisipaliteit.