Saterdag 19 April 2014
Tuisblad / Nuus / ‘Wat wen Mogale City?’

Talle mense wat die onstuimige inligtingsvergadering verlede Saterdag in die kerksaal van die Paardekraal NG kerk in Krugersdorp bygewoon het, was ontsteld omdat hul vrae nie beantwoord is nie.

Sowat 60 belangstellendes het opgedaag om besware te lug en vrae te vra oor die voorgenome Proteadal-ontwikkeling wat, as dit voortgaan, aan die Walter Sisulu- Botaniese Tuin sal grens. Onder meer 2800 nuwe wooneenhede, hoëdigtheid-woonstelle en kantore word beplan.

’n Ontstelde inwoner van Poortview het haar tabletrekenaar opgehou en ’n video gewys waarop ’n meerkat haar tuin en sitkamer binnekom.

“Wat gaan van al hierdie diertjies word as die ontwikkelaars kom?” wou sy weet.

Pieter Colyn, hoof van Green Environmental wat die omgewingsimpakstudie doen, het sy hande vol gehad om mense sover te kry om een op ’n slag te praat en om eers hul vrae op stukkies papier te skryf.

Dié vrae is op ’n plakbord gesorteer en een vir een bespreek.

Deur die loop van die vergadering het mense Colyn daarvan beskuldig dat hy vrae ontduik.

Hulle wou ook hê die Mogale City-stadsraad en die ontwikkelaars moet sake kom verduidelik.

Willem de Frey, plantkundige en koördineerder van die biodiversiteitspan, moes bontstaan om aan emosionele natuurliefhebbers te verduidelik wat die wetenskap agter die span se metodologie was en mense gevra om geduldig te wees totdat die ondersoekspan al sy werk voltooi het.

De Frey het intussen laat weet die jongste nasionale klassifikasie van die gebied “krities bedreig” sal in sy finale verslag ingesluit word.

Die meeste vrae op die vergadering was egter van ’n meer algemene aard soos wat die ooreenkoms is tussen die Mogale City-munisipaliteit en die ontwikkelaar, Tiamo, oor die finansiering van die projek en oor infrastruktuur.

“Wat kry Mogale City uit hierdie vervreemding van grond wat aan ons behoort?” was een van dié vrae.

Voor die vergadering is daar ook onderling kommer uitgespreek oor moontlike toename van misdaad tydens die bouproses en wanneer die projek voltooi is.

Colyn het verduidelik dat sy werk is om alle inligting oor die beplande perseel, insluitende kommentaar deur die publiek, bymekaar te maak en in sy verslag aan die departement van landbou deur te gee of dit vír of téén die ontwikkeling is.

Een van die vrae van die vloer, ten spyte van Colyn se versoek dat dit neergeskryf word, was waarom dié vergadering enigsins gehou word as dit reeds bekend is dat daar rooidataspesies op die terrein is en dat die gebied op ’n klas 3-rif lê. Dis twee gevalle wat volgens die departement van landbou genoegsame rede is om ’n ontwikkeling te keer.

Colyn het herhaal wat sy opdrag is.

Mogale City het teen druktyd nog nie geantwoord op versoeke om kommentaar nie.

)Lees op bl.6 meer oor hoe die Proteadal-ontwikkeling die omgewing en natuurlewe kan raak.

Verwante Artikels
  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Paasnaweek
Wat is julle planne vir die Paasnaweek?
Ons bly rustig by die huis.
Ons gaan by die huis werskaf.
Ons kry kuiermense.
Ons gaan weg! Lekker!
top
bottom