Woensdag 23 April 2014
Tuisblad / Nuus / Metropolisie los slegte smaak in 7de Straat

Melville is dié week skoner ná ’n multi-departementele munisipale skoonmaakprojek, maar van 7de Straat se winkeleienaars is briesend omdat van hul eiendom in die proses gekonfiskeer is.

Rdl. Amanda Forsythe het saam met die stadsraad gewerk om die skoon-en-heelmaakprojek verlede week so doeltreffend as moontlik te laat verloop.

Dit het bygedra daartoe dat baie van die voorstad se vullis opgeruim is, slaggate toegemaak en straatligte herstel is.

Forsythe sê alles is nie reggemaak nie, maar die stadsraad het onderneem om binnekort nog mannekrag en hulpbronne aan Melville toe te wys.

’n Klompie winkeleienaars in 7de Straat is egter hoogs ontsteld omdat daar beslag gelê is op restauranttafels en advertensieborde en hulle boonop beboet is vir die oortreding van munisipale regulasies.

Indianna Harris van Nice Find, ’n oudhedewinkel, sê haar advertensie-staanbord, wat maar sowat 50cm x 50cm groot is, is deur die metropolisie gekonfiskeer en sy is meer as R2000 beboet.

Dit is egter die aggressie van die polisiebeamptes wat haar die meeste ontstel het, sê sy. Sy het hulle met haar iPhone afgeneem en dié is by haar weggeruk, so erg dat die skerm gebreek het. Sy het vir Wes-Beeld ’n foto van die stukkende foon gestuur.

Die restaurant Poppy’s se stoele en tafels wat op die sypaadjie gestaan het, is ook gekonfiskeer, sê sy.

“Dis baie negatief. Dit voel soos teistering. Ons winkeleienaars probeer regtig ’n verskil maak aan Melville.”

Nicky Rofail, die voorsitter van Melville se inwonersvereniging, sê hoewel sy baie simpatie het met die winkeleienaars, en hoewel die polisiebeamptes hul werk nie op ’n aangename manier gedoen het nie, is dit so dat die munisipale regulasie oor versperring van die sypaadjie oortree is en dat die polisie binne hul regte opgetree het.

Forsythe sê sy kan nie vir die polisie voorskryf watter wette hulle moet of nie moet toepas nie.

Sowel Rofail as Forsythe meen egter dat mense deesdae die straatkafee-atmosfeer geniet. Dit pas ook in by die Johannesburgse stadsraad se beleid van “complete streets”.

“Miskien is dit tyd dat dié spesifieke regulasie hersien word,” sê Rofail.

Forsythe sê sy gaan die lede van die burgemeesterskomitees vir vervoer en stadsbeplanning nader oor ’n hersiening van dié regulasie.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
bottom