Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Nuus / DA-raadslid beter ná fratsongeluk

Laurette van Zijl, DA-stadsraadslid van Randburg, sê vanuit George dit “begin beter gaan en ek kan darem begin praat” ná die fratsongeluk op Nuwejaarsdag toe ’n vlieërseiler (kite surfer) haar op Stilbaai se strand omgestamp het. Die slag het haar bewusteloos gelaat en haar gesigbene is op verskeie plekke gebreek.

Sy onthou nie die slag nie, net dat sy besig was om die gesin se eie vlieërtjie op te vou toe sy hoor haar seun, George, waarsku haar man om “uit die pad te kom”.

Haar gesin sê sy het wel gepraat nadat sy vir twee of drie minute lank bewusteloos was, maar sy onthou eers weer van ’n uur later af, toe sy haar in die hospitaal bevind het.

Sy het sewe dae in die hospitaal deurgebring en het ’n operasie ondergaan waarin haar wangbene met plaatjies geheg is.

Haar man, Wouter, het ook ligte beserings opgedoen toe die vlieërseiler deur ’n sterk wind opgeruk is en in die Van Zijls vasgewaai het.

Haar dokter het gesê sy is gelukkig (om relatief lig daarvan af te gekom het), want “dit moes ’n geweldige hou gewees het,” sê sy.

Die Van Zijls was tot dié week nog in George omdat Laurette se breinbeserings dit te gevaarlik gemaak het om te reis. Sy is nog redelik swak en moet baie rus.

Laurette sê sy gaan eers teen middel-Februarie weer begin werk.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
bottom