Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Nuus / Zane ken geen grense

Zane Bauermeister het verlede week ’n jare lange droom verwesenlik toe hy op eie stoom en op sy eie bene ’n rondte om die Hoërskool Noordheuwel se atletiekbaan voltooi het.

Die geleentheid was dié skool se interhuisatletiekbyeenkoms.

Zane het in 2009 op sy spesiale skopfiets by die Hoërskool Noordheuwel aangekom. Hy het dadelik vir dr. Jac Fourie, die hoof, gaan vra of hy die leerlinge tydens die opening kon toespreek.

Dié gr.8-seun het die mikrofoon geneem en vir die ongeveer 1500 kinders verduidelik waarom hy op sy “scooter” moet ry: Terwyl sy ma swanger was met hom, het sy voorskrifmedisyne geneem wat sy ledemate só gemaak het, het hy gesê.

Hy het dankie gesê dat hy in dié skool mag wees.

Hy het ook gesê dat dit sy droom is om eendag ’n rondte om die tartan-atletiekbaan te loop.

Hy het afgesluit met die woorde: “Ja, whatever, nou is ek hier.”

Gedurende die daaropvolgende vyf jaar het Zane nog baie hekkies oorgesteek. Met twee wonderlike maats, Roché van Wyngaardt en Louis Burke wat hom oral vergesel, opgetel, gedra en mooi versorg het, was die taak ook makliker.

Teen die einde van 2010 het Zane uit eie keuse sy bene by sy knieë laat amputeer as eerste stap om sy droom om regop te kan beweeg te verwesenlik.

Aan die begin van 2011 het sy twee getroue vriende hom gehelp met sy rolstoel terwyl sy wonde herstel en die kunsbene gemaak is. In April daardie jaar kon hy sy eerste skoene aantrek en staan op sy nuwe bene.

Hy het aanvanklik slegs met hulp tussen sy twee vriende geloop, maar gou was hy sterker en het hy self oor die weg gekom.

Vanjaar is Zane in matriek. Hy het sy droom om ’n rondte om die atletiekbaan te loop tydens die skool se interhuisbyeenkoms op 14Januarie verwesenlik.

Die hele skool het hom toegejuig toe hy ’n simboliese reis deur die afgelope vyf jaar geneem het, eers op sy skopfiets, toe in sy rolstoel en die laaste deel alles met sy twee vriende steeds aan sy sy op sy bene.

Zane wil ’n helikoptervlieënier word en mense wat hom ken, weet hy sal dié droom najaag. Hy hoop ook om sy held Oscar Pistorius te kan ontmoet.

Moolman is ’n onderwyser by die Hoërskool Noordheuwel. 

 

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
bottom