Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Nuus / Baba Mia se laggie maak die las ligter

‘As sy haar laggie vir my gee, voel alles ligter,” vertel Marius Peyper, pa van baba Mia, wat op vier maande reeds moet herstel van ’n hartoperasie én die gevaarlike toestand van septisemie.

Peyper werk bedags as tegnikus, hou ná werk vir sy ouma haar plaas op Daniëlsrus buite Krugersdorp “in orde” en probeer sy eie onderneming aan die gang kry. Sy groot bekommernis is Mia se mediese onkoste, want sy mediese fonds is uitgeput. “In dié stadium is alles kontant,” sê hy.

Peyper vertel klein Mia was so tien dae oud toe hy en haar ma, Riekie Keet, onraad vermoed het. Die baba wou nie drink nie en haar handjies en voetjies was koud.

Sy is hospitaal toe geneem en was byna ’n maand lank in die Krugersdorp- Private Hospitaal sowel as die Sunninghill-hospitaal. Sy moes onder meer ’n operasie kry om haar aorta te vergroot.

Peyper vertel sy pa is ses maande vantevore aan hartversaking oorlede en hy het hom in sy kamer dood aangetref, net soos wat hy sy oupa twee jaar vantevore ook dood aangetref het nadat ook hy aan sy hart oorlede is.

“Dit het deur my kop gegaan dat Mia dit nie gaan maak nie,” sê hy. “Ek was te bang om aan haar te vat en baie keer te bang om hospitaal toe te gaan.

“Dit was nie maklik om haar te sien met allerlei pypies aan haar gekoppel nie.”

Hy sê Keet was elke dag by die hospitaal. Op haar verjaardag in Oktober verlede jaar kon sy Mia weer vir die eerste keer in weke vashou.

Een van die ernstigste nagevolge van die operasie is dat die baba se stembande beskadig is. “Ons kon haar nie hoor huil nie,” sê Peyper.

Mia is nou weer by haar ouerhuis. Sy het nog nie genoeg gewig opgetel nie en moet elke drie uur ten minste 100ml melkformule drink. Sy moet ook gereeld fisioterapie kry.

Oor sowat ses weke moet sy ’n spesialis besoek wat na haar stembande gaan kyk. Die mediese onkoste is ’n baie groot kwelling. Geldinsamelingsgeleenthede is reeds verlede jaar vir baba Mia gehou, en volgens Lindie Breet, Peyper se suster, gaan hulle’n sokkiejol hou teen Februarie of Maart.

Mense wat meer wil uitvind oor hoe om baba Mia Peyper te help, kan Breet kontak by 0833582059.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Paasnaweek
Wat is julle planne vir die Paasnaweek?
Ons bly rustig by die huis.
Ons gaan by die huis werskaf.
Ons kry kuiermense.
Ons gaan weg! Lekker!
top
bottom