Donderdag 17 April 2014
Tuin sonder tuiniers
2012-12-21 10:57
Tuin sonder tuiniers
Corné Coetzee
Opgelaai deur:
Corné Coetzee
Tema: Tuinmaak

Ons tuin kort vurke en grawe in die grond. 

Parkeerplek, ’n kort tou in die poskantoor, lieflike weer as dit ophou reën, mens hoor voëls in die bome.

Johannesburg in Desember – wonderlik.

Al wat kortkom is tuiniers. Hulle gaan huis toe tot Januarie, en Moeder Natuur neem oor. Grasperke en onkruid groei voor jou oë. Tuinmaak is mos maar eintlik ’n stryd teen die natuur. En as jy jou rug draai, wen die natuur.

Ons Straattuin hét nie eintlik tuiniers nie, dis sy probleem.

Maar nóú maak ek plan. My spertye vir die jaar is gehaal, gemis, geïgnoreer (ontspan, Baas, ek praat nie van werk-spertye nie - ek het 'n ander lewe ook), verby. Nou takel ek daardie tuin van ons.

My doenlys klink soos ’n politieke werwingsveldtog:

 Verwoord 1. die visie (’n organiese kostuin wat oop is vir almal) (ek soek meer gevleuelde woorde), en

2. die missie (om bure te laat saamwerk aan die tuin) (bure te laat saamwerk? Droom, meisie, droom),

3. Bepaal die strategie: ’n effektiewe metode van kommunikasie (briefies in posbusse) en oorreding (dalk ’n belofte van Kerskoek, koffie of sjerrie?) om

4. ’n nuwe vergadering gehou te kry.

5. Die uiteindelike mikpunt hiervan is vurke en grawe in die grond, want Moeder Natuur loop los voor.

Intussen lyk die Oom Sarel-perskeboom waarvoor Moses die groot gat gegrawe en wat ek geplant het tevrede. In die maand wat hy geplant is, het een of twee blare geel geword, een of twee nuwes uitgekom en een of twee is beetgekry deur die bruin Kersfees-besies.

Nie te sleg nie. Kenners/“kenners” voorspel ’n inval van peste en ellende; ek druk my ore toe en dra EM (effektiewe mikro-organismes, die organiese mense se geheime wapen) aan.

In my verbeelding maak die tamaties geel blommetjies, die basiliekruid maak hul groot, sagte, pofferige blare en die pampoene rank om jou enkels as jy lank genoeg stilstaan.

Een van ons bure, Julia (op die Duitse manier, wat ook die Afrikaanse manier is, met ’n sagte “j” uitgespreek), het ’n ruk in Noorweë gewoon.

Sy vertel daar was ’n soortgelyke projek in haar buurt, maar dit was vanselfsprekend dat mense self sal moue oprol en ’n uur of twee of drie lank sal inspring. Dis ’n tipies Suid-Afrikaanse manier om te sê “ek sal my tuinier stuur”.

Ek het niks teen die tuiniers nie – dankie tog, “myne” kom nog dié week voor Kersfees, maar dit was deel van die Straattuin-visie dat die bure sal sáámwerk. Skouer aan skouer, so te sê.

Ag, los my, laat ek maar droom. 
facebook
twitter
img
img
img
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Paasnaweek
Wat is julle planne vir die Paasnaweek?
Ons bly rustig by die huis.
Ons gaan by die huis werskaf.
Ons kry kuiermense.
Ons gaan weg! Lekker!
top
bottom