Saterdag 19 April 2014
Tuisblad / Nuus / Boom-geskenk maak groot verskil

Die Vereniging van die Konferensiebedryf van Suider-Afrika, (SAACI) se noordelike streke-tak het onlangs 380 bome aan die inwoners van Rietfontein Village naby Diepsloot, Johannesburg, geskenk.

Die geld vir die bome is ingesamel by die vereniging se jaarlikse kongres vroeër vanjaar en die projek is met die samewerking van Food & Trees for Africa (FTFA) se Trees for Homes-program aangepak.

Die kongresvoorsitter, Wayne Johnson, sê die vereniging voer elke jaar ’n groen projek uit om die omgewingsimpak van dié kongres teen te werk.

“Ek glo ons het vanjaar nuwe rekords opgestel met ’n lae koolstofvoetspoor én om ’n tasbare bydrae te maak aan ’n gemeenskap in die omtrek. Ons samewerking met FTFA het noemenswaardige uitwerking gehad.”

“Ons bedank die borg vir dié bome,” sê rdl. Molefi Selibo. “Dié bome is ’n groot geskenk aan die gemeenskap en ek sal mense persoonlik aanmoedig om na hul bome om te sien.”

Rietfontein Village, bekend as Video, is langs Beyers Naudérylaan en die N14 in Mogale City.

Die omgewing het nuwe HOP-huise, maar geen bome nie. Die inwoners is van naburige plakkerkampe daarheen verskuif.

FTFA het vir dié projek 190 vrugtebome perske-, appelkoos- en pruimbome en 190 inheemse bome wilde-olyf-, karee-, en wilgerbome bekom, wat geskik is vir die klimaat.

Van die voordele wat dié bome bied is vrugte, koelte, ’n habitat vir voëls en wilde diertjies, suurstof, geleentheid om te leer van klimaatsverandering en die omgewing, skoner lug, minder stof, minder gronderosie, waterafloop en lawaai en volhoubare nedersettings en mense se toenemende trots in hul omgewing.

Agt inwoners van Rietfontein Village wat nie tans werk het nie, kry nou opleiding om die gemeenskap te leer oor die boomprojek. Hulle gaan ’n jaar lank saam met FTFA werk om die bome te monitor.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Paasnaweek
Wat is julle planne vir die Paasnaweek?
Ons bly rustig by die huis.
Ons gaan by die huis werskaf.
Ons kry kuiermense.
Ons gaan weg! Lekker!
top
bottom