Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Artikels / Geskenke sakpas én uit die hart

Plant ’n plantjie

Vetplantjies soos woestynrosies is hoogmode en hou boonop lank.

Ronde, plat vetplante is geneig om al om die moederplant babatjies te maak wat jy eenvoudig uit die grond kan trek en oorplant. Plant een in ’n blikbeker, sit ’n mooi lint om die beker en jy het ’n geskenk wat jou nie baie geld kos nie en tog spesiaal is. Al wat jy nodig het, is ’n steggie, potgrond, ’n blikbeker (hulle kos sowat R6 stuk), ’n mooi lint en fyn klippies.

Maak drie gaatjies onderin die beker met ’n hamer en ’n spyker of ’n boor sodat die water kan dreineer. Sit ’n lagie fyn klippies op die bodem en vul die beker met potgrond. Plant jou vetplantjie versigtig.

Maak ’n eenvoudige kaartjie met ’n mooi vers of wens en maak dit vas aan die oor van die beker.

 

’n Wynetiket vir Pa

Koop ’n bottel van jou pa se gunsteling-wyn. Druk ’n mooi, digitale foto van hom op plakkerpapier in dieselfde grootte as die etiket op die bottel. (Plakkerpapier is te koop by skryfbehoeftewinkels en as jy nie ’n kleurdrukker het nie, laat druk dit by ’n fotoplek.)

Knip die plakker uit en plak dit bo-oor die plakker op die wynbottel. Ontwerp ook ’n plakker vir die agterkant van die wynbottel. Skryf of tik daarop waarom jy bly is hy is jou pa.

 

’n Koffiebeker vir Ma

By kuns- of handwerkwinkels kry mens glasverfpenne waarmee jy op byvoorbeeld wit koffiebekers kan skryf of teken. Die item moet dan vir 30 minute in die oond gebak word sodat jou kuns nie afkom wanneer dit gewas word nie.

Die moontlikhede is legio. Die penne is in baie kleure te kry.

 

Raam ’n gedig

Kies ’n mooi gedig of skryf self een vir jou geliefde. Skryf dit in jou eie handskrif op mooi papier en raam dit in ’n eenvoudige raam. Mooi houtrame is te kry by handwerkwinkels en markte.

 

Geskenkpapier vir ’n vriendin

Hierdie idee verg ’n bietjie meer tyd en kreatiwiteit. Gebruik tydskrifprentjies en ontwerp jou eie geskenkpapier deur ’n collage op ’n A3-grootte papier te maak.

Maak vier tot ses kleur-afskrifte en verpak dit saam met bypassende kaartjies wat jy sommer self maak en lint (genoeg om ’n paar geskenke toe te draai). Nog ’n idee is om die velle by ’n fotoplek te laat lamineer sodat dit as plekmatjies kan dien.

 

Koekies vir Ouma en Oupa

Gebruik die gewone, outydse soetkoekie- of gemmerkoekieresep en vul ’n ou konfytbottel met koekies wat Ouma en Oupa se hart sal laat vermurwe.

Versier die bottel met ’n mooi lint en kaartjie.

 

’n Skulphartjie

Gaan julle see toe? Vorm ’n hart met draad en ryg skulpe wat jy opgetel het in vir ’n geskenk wat ’n seeliefhebber se hart bly sal maak. Soek juis dié uit wat stukkend is sodat daar ’n plekkie is om die draad deur te ryg.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
bottom