Sondag 20 April 2014
Tuisblad / Nuus / Knaagplaag kwel Jozi

Die onlangse agterstalligheid van vullisverwydering in dele van Johannesburg (onder meer Randburg) het weer bygedra tot die aanwas van rotte in Johannesburg, waar dié ongewilde knaagdiertjies reeds ’n probleem was.

Verskeie redes word aangevoer vir die groot getalle rotte in die stad. Volgens die Johannesburgse stadsraad het die groot staking deur Pikitup se vullisverwyderaars verlede jaar ’n rotplaag ontketen, veral in townships soos Alexandra en Soweto.

Prof. Herman van der Bank, ’n soöloog aan die Universiteit van Johannesburg, sê hy sien deesdae meer rotte in sy eie omgewing, Sophiatown, en hy skryf dit toe aan die talle oop en onbewoonde erwe daar.

Faried Domingo van Pestbusters in Roodepoort sê boubedrywighede dra ook by tot die toename in rotte plek-plek in die stad.

“Veral nuwe geboue wat opgerig word, versteur die rotte se natuurlike habitat. Hulle vlug dan in huise of ander geboue in die omgewing in,” sê Domingo.

Al hoe meer kenners sê egter gif is nie die oplossing vir die probleem nie.

Jonathan Haw van EcoSolutions voel sterk daaroor dat mense nooit rotgif moet gebruik nie omdat dit uile sekondêr vergiftig.

“Daar bestaan nie so iets soos ’n uilvriendelike rotgif nie,” sê hy.

“Bowendien werk rotgif nie op die duur om rotte permanent uit te roei nie. Hulle sal gaan waar daar kos en skuiling vir hulle is.”

Die stadsraad werk aan ’n driejaarprojek in die townships wat probleme met rotte het en dit sluit die oprig van uilbokse in.

Sunspray Food Ingredients in Industria is so tevrede met hul inwonende uile as rotbestryders dat hulle dié projek gaan uitbrei na hul ander vervaardigingsperseel in Bronkhorstspruit.

Die ou, ongebruikte wisselspoor en vervalle geboue in Industria verskaf die ideale blyplek vir rotte.

Die fabriek het jare lank die plaag met gewone gif- en lokvalmetodes beheer, maar het vanjaar met ’n meer ekologies vriendelike manier begin: nonnetjiesuile.

Altesame drie broeisels uilskuikens is in ontvangs geneem en ’n span vrywilligers het die uiltjies met groot sorg gevoer en opgepas. Hulle is oor ’n tydperk van sowat vyf maande vrygelaat.

“Die personeel was baie betrokke met die grootmaak en baie van hulle het hul vrees vir uile oorkom deur dié projek,” sê David Watson, die besturende direkteur van Sunspray.

“Die gevolg van die uilprojek is dat die knaagdierbevolking aansienlik verminder het. So te sê geen voorraad moes die afgelope tyd weens knaagdierskade afgeskryf word nie.

“Nou gaan ons nonnetjiesuile by ons ander perseel in Bronkhorstspruit ook gebruik.”

)Uilbokse wat deur die leerlinge van die Hoërskool Die Burger gemaak is, kan bestel word by clemsmith60@yahoo.com. Dit kos R500 vir ’n boks, plus R200 vir installering, waarvan R130 vir materiale is; die res gaan aan die leerling.

)Die Johannesburgse stadsraad stel voor dat mense hul huishoudelike afval in plastieksakke toedraai voordat dit in vullisblikke geplaas word, nie vuil skottelgoedwater buitekant gooi nie en onwettige storting van rommel in oop ruimtes en parke by 00860562874 aanmeld.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Paasnaweek
Wat is julle planne vir die Paasnaweek?
Ons bly rustig by die huis.
Ons gaan by die huis werskaf.
Ons kry kuiermense.
Ons gaan weg! Lekker!
top
bottom