Tuisblad / Nuus / Talmkossers vier aarde-dag

’N Terra Madre-dag, wat wêreldwyd op 10 Desember gevier word, is Saterdag in Linden by die Cheese Gourmet-winkel gehou.

Dié dag is ingestel deur die internasionale beweging vir talmkos (slow food).

Brian en Jo Dick, eienaars van Linden se Cheese Gourmet-winkel, was in Oktober by die internasionale Terra Madre-konferensie in Turin, Italië, waar allerlei soorte ongewone kos wat op klein skaal en ’n volhoubare manier verbou of gemaak word, uitgestal is. Altesame 131 lande is verteenwoordig en sowat 220000 besoekers het dit bygewoon.

Kobus Mulder, ’n Kapenaar en internasionaal bekende kaasmaker, het saam met Dick Suid-Afrika se roumelkkaasbedryf verteenwoordig.

“Dit was opwindend dat Suid-Afrikaanse kase hul so goed gestand kon doen tussen wat die res van die wêreld kan bied,” sê Dick.

“In die verlede het ons altyd gesê: ‘Dis ingevoer, jy weet’ en daarmee bedoel ‘dis beter’.”

Nou wil hy mense uitdaag om te sê: “Dis plaaslik, jy weet.”

Hy meen Suid-Afrikaners moet glo dat hulle goed is in wat hulle doen. “Proe die genietinge wat ons land bied.”

Om die Turin-ervaring met plaaslike mense te deel, het Brian en Jo dié dag by die Cheese Gourmet-winkel gehou.

“Ons wil mense geesdriftig maak oor wat in hul eie omgewing gebeur,” sê hy.

Kaasliefhebbers, kosliefhebbers, lekkerbekke en nuuskieriges kon Saterdag proe, vergelyk, kyk, luister en gesels.

Roumelkkaas van die Bronbergplaas oos van Pretoria kon vergelyk word met kaas wat die kaasmaker Alison Tuling spesiaal vir dié doel en geleentheid van gepasteuriseerde melk gemaak het.

Mense kon ook twee soorte olyfolie, een van groener en een van ryper olywe, van die De Rustica-landgoed in die Swartberge proe.

Uit die kombuis van Cheese Gourmet se restaurant was daar eg Italiaanse disse en vir inspirasie was daar foto’s en brosjures van die Turin-konferensie.

Rdl. Tim Truluck het sy stadsraadhoed verruil vir sy Talmkos-hoed en ’n sensoriese slypskool oor seisoenale vrugte aangebied.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Sondag 2013-05-26
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 12° - 16° icon
PTA 8° - 26° icon
JHB 6° - 24° icon
BLOEM 6° - 26° icon
DBN 16° - 28° icon
PE 11° - 22° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs