Tuisblad / Nuus / Liggies gaan aan vir Melville

Melville se Sewende Straat kry sy liggies terug!

Soos in die kinderfliek How the Grinch Stole Christmas het Melville se Kersliggies ná 2007 se feesseisoen soos ’n groot speld verdwyn.

Die DA-raadslid Amanda Forsythe het hulle egter vroeër dié jaar ontdek toe sy winkeleienaars besoek het en oor die hernuwing van Melville gesels het.

“By die Bead Shop het die eienaar, Jeremy Rosenberg, so ewe gevra of ons nou uiteindelik die Kersliggies by hom kom haal!

“Omdat mense op die inwonersvereniging kom en gaan, het dit vergete geraak dat die liggies by dié winkel gestoor is.

“Ons is regtig verheug oor die vonds.”

Die stadsraad se City Power het reeds kom kyk of die infrastruktuur vir die ligte nog in orde is en die Kersliggies word dié week opgehang.

Verskeie van die winkels en restaurante in Sewende Straat skud hul Kersvere reg met spesiale aanbiedings en vensteruitstallings. Saterdag teen skemer word die ligte aangeskakel en musiek en Kersliedjies gaan gehoor word.

Nicky Rofail, voorsitter van die inwonersvereniging (MRA) vra dat mense so min as moontlik in die straat moet ry en parkeer; “gewis nie op geel strepe of hoeke nie, sodat Melville soos in die ou dae vol mense in die strate kan wees”.

Saterdag is ook die dag waarop die nuwe Tuc Tuc-diens, deel van die nuwe Koop plaaslik-veldtog van die MRA, bekend gestel gaan word. Om 18:15 word die MRA se nuwe webwerf ook op die groot muur oorkant die Lucky Bean-restaurant bekend gestel.

“Die terugkeer van ons liggies is simbolies van die begin van ’n nuwe era vir ons voorstad as die outentieke hart van Johannesburg se kultuur,” sê Rofail.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-06-19
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 12° - 16° icon
PTA 3° - 19° icon
JHB 2° - 18° icon
BLOEM -1° - 19° icon
DBN 10° - 24° icon
PE 10° - 21° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs