Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Artikels / In dié tuin groei als, ook boeke

Daar is iets letterlik bekoorlik aan Jane Griffiths se tuin.

Wanneer jy hier instap, vergeet jy van tyd; jy vergeet jy is in ’n gewone dorpserf, skuins oorkant twee besige strate en ’n winkelsentrum. Dis ’n wêreld op sy eie.

Metgeselplante betree ’n nuwe liga hier. Net duskant die 80 soorte kruie, Kaliforniese papawers en rose onder meer staan rond tussen koringblommetjies en spinasie, party reeds aan’t saad skiet, verskeie soorte pampoene (wat moet óprank, want grondlangs is daar nie plek nie), ’n klompie fyn aspersieboompies, artisjokke en ’n reuse-pruimboom, 100 jaar oud. Die swembad is in die proses om in ’n vleilandswembad omskep te word met onder meer suurstofryke plante.

Oor alles is daar ’n storie.

Soos die braambessies waarvan sy vertel ’n mens ’n tee van kan maak as jy ’n minnaar wil behou. “Die heerlike bessies sal hom of haar inlok en dan sal die doringrige takke hom binnehou.”

Of oor die optelgoed en mooigoed wat hier en daar neergesit is soos die Afrika-beeldjie wat sedig langs ’n kop frilletjiesslaai staan en tuur. En veral oor die kruie. Van seepwortel maak jy seep vir fyngoedjies; die marsh- mallow-kruid (Althea officinalis) is kalmerend; gotu kala, naelkruid oftewel pennywort, verskaf breinkrag en langslewendheid.

Dis duidelik dat Griffiths se nuwe boek, soos die ander twee, net soveel “gegroei” het as wat hy geskryf is. Sy skryf oor niks wat sy nie self gekweek en beproef het nie.

Die foto’s pronkstukke is deur Griffiths gestileer met eie goed en erfgoed soos haar pa, ’n apteker, se ou hout-en-porselein-stamper-en-vysel. Sy en haar man, Keith Knowlton, het al die foto’s geneem in die natuurlike lig in hul huis en tuin.

Griffiths het in Pietermaritzburg grootgeword “in ’n tuin wat soos ’n park was”, sê sy.

“My ma het ongelooflike groen vingers.”

Haar oupa was ’n boer naby Kokstad en sy onthou “baie glorieryke weke daar” as kind en tiener.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Paasnaweek
Wat is julle planne vir die Paasnaweek?
Ons bly rustig by die huis.
Ons gaan by die huis werskaf.
Ons kry kuiermense.
Ons gaan weg! Lekker!
top
bottom