Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Nuus / ‘Werk saam teen misdaad’

Daar bestaan geen toweroplossing nie; in dié stadium is daar meer kwellings as antwoorde en saamstaan is al hoop op ’n verbetering in die misdaadsituasie.

Dít blyk uit ’n vergadering wat Saterdag by die Community Ministries-kerk in Muldersdrift gehou is, ’n week ná die soveelste moord in ’n rooftog op ’n kleinhoewe in Elandsdrift.

Sowat 30 mense, onder wie verteenwoordigers van organisasies sonder winsbejag, kerke, skole en gemeenskapsgerigte veiligheidsmaatskappye en lede van die polisiediens (SAPD) het hul kwellings oor misdaad en moontlikhede van proaktiewe optrede bespreek.

Die kriminoloog prof. Colleen Lewis van die Monash-universiteit se sosialewetenskap-departement het die bespreking gefasiliteer.

Sy het gesê navorsing toon misdaadsyfers daal wanneer gemeenskappe bymekaarkom en hul kennis deel, maar neem toe wanneer gemeenskappe verdeeld is en mekaar oor en weer beskuldig.

Daar is ook geen enkele “toweroplossing” nie.

Lee Lerm, ’n traumaberader, het gesê daar is reeds in Krugersdorp begin met ’n BBM-groep (’n SMS-groep vir BlackBerry-slimfooneienaars) en dieselfde gaan nou in Muldersdrift gedoen word.

Dit kom neer op ’n “misdaadkanaal” na die SAPD en opsporingsmaatskappye.

Trevor Roberts van die veiligheidsmaatskappy Conserv, wat sterk gemeenskapsgeöriënteerd is, het aangebied om ’n gratis lesing aan te bied oor hoe om jouself fisiek te beskerm.

Hy het ook gesê swak verhoudings tussen werkgewers en werkers en onbeheerde bronne van arbeid skep probleme.

Sam Ngoma, een van die pastore van Community Ministries, het gesê sy kerk werk aan morele vernuwing en verskaf selfs kos in sekere gevalle.

“As mense nie kos in hul huis het nie, sal hulle uitgaan en oplossings soek.”

Hy het gesê sy kerk wil graag ’n opleidings-en-ondersteuningsprogram sien wat jong werkloses help om in te skakel by ondernemings in die gemeenskap.

“Ons fokus egter op ‘jy mag nie steel nie; jy mag nie doodmaak nie’.”

Jorncy Page, voorsitter van die Muldersdrift-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê ’n GPF is die doeltreffendste wanneer mense elke vergadering bywoon omdat daar op dié vergaderings inligting geruil en bespreek word wat waardevol is in die pro-aktiewe bekamping van misdaad.

Kol. David Seabi, bevelvoerder van die Muldersdrift-polisiekantoor, het gesê die polisie het die hulp van die gemeenskap nodig.

Hy het bygevoeg: “Mense moet mekaar ken.”

Op heelwat kleinhoewes in die omgewing woon verskeie gesinne waarvan die mense mekaar nie ken nie.

Matloga Etumeleng, hoof van ’n plaaslike skool, het gesê eksamentyd is ’n gevaarlike tyd vir skole.

Baie kinders het nie vervoer op dié tyd wanneer hulle klaar eksamen geskryf het nie. Dan stap hulle alleen huis toe en is ’n maklike teiken vir aanranders en verkragters.

Van die vloer het ’n verteenwoordiger van ’n jeuggroep gesê wanneer die media nie berig oor swart mense wat vermoor word nie, skep dit vyandigheid.

)Die GPF-vergaderings word by die Mudersdrift-polisiekantoor gehou.

Datum: Sektor 1: Elke derde Woensdag van die maand; sektor 2: elke tweede Dinsdag; sektor 3: elke derde Dinsdag van die maand.

Tyd: 18:30.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Paasnaweek
Wat is julle planne vir die Paasnaweek?
Ons bly rustig by die huis.
Ons gaan by die huis werskaf.
Ons kry kuiermense.
Ons gaan weg! Lekker!
top
bottom