Vrydag 25 April 2014
Vingeralleen op die vlakte
2012-11-27 16:23
Vingeralleen op die vlakte
Corné Coetzee
Opgelaai deur:
Corné Coetzee
Tema: Tuinmaak

Moed hou is moeiliker as wat dit lyk.

Een van die voordele van lank leef, sê ’n vriend, is dat jy fases sien kom en gaan.

Ons Straattuin (soos mense die toekomstige Thanetstraattuin begin noem) het stilgestaan en ek was – vingeralleen – op moedverloor se vlakte oor hom. Wat nooit soos ’n fase voel nie.

Die mense wat geesdriftig was aan die begin, is nêrens te sien nie. Niemand help of vra eers oor die tuin nie. Al wat groei is onkruid, ’n meneer van ’n grasperk en – ek kan swéér – klippe.

Ons is aan die voetheuwels van die Melville-koppies, jy kan dit sien aan die klippe. Die ag-wie-gee-om-vir-’n-tuin kan jy sien aan die bourommel-oorblyfsels.

Die fase begin sy ware, tydelike kleure wys toe ek straat-af loop van die werk af (ek weet, hoe gelukkig kan ’n mens dit tref?) en buurvrou Glen in haar tuin sien staan. (So per toeval deur haar ysterhek, dis Johannesburg die.)

Ek groet en sy val met die deur in: Sal ek omgee as sy die onderste terras van Ons Straattuin oorneem?

?! Sal ek ómgee?!

Twee dae later is daar ’n verandering in die tuin, en ’n week later is dit geplant met kandelare (agapanthus, daardie pers verestoffer-blomme), biesies, en vir grondbedekker, alikreukel. Elkeen ’n aanhouer.

Min of meer dieselfde tyd werp my man se soektog na goedkoop sandsakke vir ons keerwalle vrugte af, welliswaar niks nuttigs nie. Hy kry nou gereeld e-posse van China af met aanbiedings van handsakke tot goiingsakke, ook sakke gemaak volgens Amerikaanse weermagspesifikasies.

Wel, dis darem beweging. My broer die hoenderboer gee my die nommer van Transvaal Bag Company en hulle vertel my, in Afrikaans, hul tweedehandse sakke kos R1.40 elk, “ons is hier, kom maar net”. Nou praat ons.

Die volgende middag stop ’n bakkie voor my huis net toe ek van die kantoor af aangestap kom. (Goethe sê: “Begin, dan gebeur allerlei toevallighede om jou te help...”

“Dagsê,” sê die man, in die klassieke een-arm-op-die-stuurwiel-elmboog-by-die-venster-uit-posisie, “ek hoor julle wil ’n bietjie tuinmaak hierso”.

Hy het kompos en kraalmis om weg te gee, én ’n olyfboom!

Mens moet net glo. En lank genoeg leef.

Môre laat grawe ek ’n gat vir ’n Oom Sarel-perskeboom.
facebook
twitter
img
img
img
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
bottom