Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Nuus / Kleuter met kanker moet VSA toe vir behandeling

“Dis die laaste ding wat ek aan gedink het,” sê Zai Card, ’n inwoner van Fleurhof en enkelma van Layla (4), en Kevin, (6).

Layla, ’n leerling van die Orban-kleuterskool in Westdene, is sowat drie weke gelede gediagnoseer met breinselkanker en benodig R400 000 vir behandeling in Houston in die VSA.

’n Ondersteuningsgroep is gestig om te help om die geld binne die volgende paar weke in te samel, omdat behandeling dringend nodig is om die aggressiewe kanker te stuit.

Willem Steenkamp, die pa van een Layla se skoolmaatjies by die Orban-kleuterskool in Westdene, is betrokke by die ondersteuningsgroep en geldinsameling. Hy verduidelik dat die soort gewas wat sy het nie bestraal, uitgesny of met chemoterapie behandel kan word nie.

Volgens hom is ’n spesiale behandeling daarvoor ontwikkel in die Burzynski-kliniek in Houston, waar die pasiënt se eie selle gebruik word om haar spesifieke medikasie te ontwikkel. Goeie resultate is glo reeds bereik met dié metode.

Konserte word inderhaas beplan om geld in te samel vir Kayla en mense word gevra meer inligting daaroor te kry op die Facebook-blad www.facebook.com/LoveforLayla of die groep op Twitter te volg by @Love_for_Layla. Skenkings kan gemaak word deur ’n e-pos te stuur aan laylacardappeal@gmail.com.

Card sê Layla het “beter dae en minder goeie dae”.

“Vandag kon sy nie loop of praat nie, maar teen laatmiddag het dit weer effens beter begin gaan.

“Mense is fantasties, ek kry SMS’e van mense wat ek nie eers ken nie om te sê hulle bid vir ons. Die skool, ander ouers, my werk is fantasties. ’n Mens sien dit nie elke dag nie, maar mense het soveel erbarming.

“My seuntjie Kevin verstaan waaroor dit gaan en hy wil net myle loop om geld in te samel, dit breek my hart in ’n duisend stukke. Hy is die stil een, Layla was altyd die lewendige enetjie wat gedans en gesing het.

“Die huis gaan ’n bietjie dood noudat sy nie haarself is nie. Ek het baie hoop dat ons die geld ingesamel gaan kry. Layla gaan nog ’n rock star word.”

Lees meer inligting oor die behandeling by www.burzynskiclinic.com en op die webblad van die Amerikaanse nasionale kankerinstituut by www.cancer.gov/cancertopics.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
bottom