Woensdag 23 April 2014
Tuisblad / Artikels / Muldersdrift bly sy plek

‘Ek bly net hier,” sê Jorncy Page, voorsitter van die Muldersdrift-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), ná ’n onlangse reeks geweldsmisdade in dié omgewing.

Terwyl die moorde op Alyssa Botha en André Jordaan gruwelik en tragies was, sê Page, wys statistieke geweldsmisdaad is nie erger in Muldersdrift as in die res van die land nie.

Ná die twee moorde is Muldersdrift in die media uitgebeeld as ’n gevaarsone wat deur rowers en moordenaars geteiken word. Albei slagoffers is by hul huise doodgeskiet.

Page meen mense in dié omgewing moet betrokke raak by hul veiligheid. Volgens hom is inwoners van Muldersdrift soms nogal “ongeërg” oor veiligheid.

Hulle het ook soms verwagtinge wat nie realisties is nie. “Dis nie New York nie, alles gaan nie perfek werk nie ook nie die diens deur die polisie nie.”

Page moedig mense aan om betrokke te raak by die forum, al is dit nie ’n kitsoplossing wat hul lewe dadelik gaan verander nie.

“Dit is ’n pro-aktiewe organisasie wat die oë en ore van die polisie is. Om deel te neem aan die GPF beteken om na elke vergadering (een per maand) te kom. Dit beteken om inligting te deel, om te leer hoe die polisie werk en hoe om die gewensde reaksie by die polisie te kry.”

Tanya Swartz, ’n eiendomsagent van Tarlton, het in Muldersdrift grootgeword en vertel haar ouers woon daar sedert hul kinderdae. Swartz, wat die afgelope ses jaar in Tarlton woon, sê sy kan die verskil sien tussen Tarlton, wat ’n lae misdaadsyfer het, en Muldersdrift.

Sy sê die Tarlton-gemeenskap tree sedert sowat 2004 daadwerklik teen misdaad op.

“Almal ken almal. Ons het mekaar se selfoonnommers. Ons ken ons polisiemanne. Ons vra nie wat kan die polisie vir my doen nie, ons sê liewer: ‘Wat kan ek vir die polisie doen?’

“Wanneer mense in die plakkerskamp aangerand word, gaan help ons en laat kom die polisie.

“Die boodskap wat uitgaan is dat hier geen toevlug is vir slegte ouens nie.

“Ons doen al die gewone goed: Hou ’n hond in die huis aan, wees oplettend en waaksaam, bring sterk ligte aan bestee die geld!

“Ek kén Muldersdrift. Baie mense ken nie hul bure soos hulle behoort nie en baie mense is nie altyd bedag op hul eie veiligheid nie.”

Tog glo Swartz eiendomsontwikkelaars gaan binnekort aansienlike beleggings maak in Muldersdrift “en dit gaan nie gestop word nie”. Sy twyfel of die onlangse voorvalle van geweldsmisdaad eiendomspryse oor die duur sal laat daal.

Ao. Hitler Ngwenya van die Muldersdrift-polisiekantoor moedig inwoners aan om hul werkers te registreer. Hy sê mense moet kontakbesonderhede van sowel hul werkers as dié van hul werkers se familie en vriende kry; nie hul eiendomme onbewaak los nie en nie hekke, vensters en deure saans laat oopstaan nie.

Hy sê inwoners moet ook nie hul werknemers toelaat om enigeen tot die eiendom toe te laat sonder om hulle in kennis te stel nie.

)Kontak die Muldersdrift-GPF deur die Muldersdrift-polisiekantoor by 00116687600. GPF-vergaderings word elke laaste Dinsdag van die maand by dié polisiekantoor in Abraham van Wykstraat, Muldersdrift, gehou.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
bottom