Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Nuus / Polisie bult spiere vir feesseisoen

Die feesseisoen het vanjaar vroeg begin vir die polisie en ander wetstoepassers toe Operasie Duty Calls die afgelope week in groot dele van die Wes-Rand afgeskop het.

Lt.Kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die misdaadvoorkomingsoperasie is deel van die voorbereiding vir die feesseisoen om misdaad in Gauteng hok te slaan.

Polisielede van verskeie polisie-cluster-gebiede, waaronder Honeydew, Krugersdorp, Moroka en Orlando, het 30 verdagtes tydens dié operasie vir dwelmverwante misdrywe aangekeer.

Sowat 55 verdagtes is onder meer vir moord, huisroof, motorkapings, diefstal, verkragting, aanranding en dronkbestuur gearresteer.

Verkeersboetes ter waarde van R69 000 is aan motoriste uitgereik waar padblokkades opgestel is en voertuie deursoek is, veral in Honeydew, Roodepoort, Kagiso, Krugersdorp en dele van Soweto.

Daar is onder meer op verskeie soorte dwelms sowel as gesteelde koperkabels, vervalste DVD’s en ’n vuurwapen beslag gelê.

Drie gesteelde voertuie, waaronder ’n Nissan-bakkie, ’n VW Golf en ’n Audi is ook gekonfiskeer, ná die polisie by ’n paneelklopper in Orlando in Soweto toeslaan het.

Die Audi word met ’n tref-en-trap-voorval verbind wat vroeër in Booysens in die suide van Johannesburg plaasgevind het.

“Die eienaar van die voertuig sal na verwagting binnekort gearresteer word,” het Dlamini gesê.

Vyf onwettige drankhandelaars se sakeondernemings is gesluit.

Vier verdagtes is ook in Primrose (Germiston), Loate (noord van Pretoria) en Dunnoter (naby Springs aan die Oos-Rand) aangekeer vir onder meer die besit van vier ongelisensieërde vuurwapens, drie 9mm-pistole en ’n rewolwer.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
bottom