Woensdag 23 April 2014
Nuus / Nuwe munisipale grense: laaste kans vir beswaar

’n Openbare vergadering op 10 Augustus in Randfontein oor die voorgestelde munisipale grensverskuiwings bied een van die laaste geleenthede waar inwoners hulself kan inlig en ook beswaar kan aanteken oor dié kwessie.

’n Verteenwoordiger van die munisipale afbakeningsraad (MAR) sal die vergadering lei.

Nuwe grense moet glo in plek wees vir die volgende plaaslike verkiesing in 2016. Dit kan dus reeds teen April of Mei volgende jaar ’n werklikheid wees.

Gert Niemand, DA-stadsraadslid van die Witpoortjie-omgewing, moedig inwoners aan om die vergadering by te woon.

Hy het verskeie kwellings oor die voorgestelde grensverskuiwing, onder meer dat die grondgebied daarna geweldig groot sal wees en dat mense letterlik verder verwyderd sal wees van hul munisipaliteit.

“Die inlyfkoste sal astronomies wees en die administrasieproses ingewikkeld,” sê Niemand.

Jaco Mulder, LPW van die VF+, sê dié party is gekant teen die samevoeging van die munisipaliteite van die Wes-Rand in een nuwe metroraad wat Roodepoort insluit.

Mulder meen dié stap gaan inwoners benadeel en lei tot verhoogde belasting en swakker dienslewering.

Hy wys daarop dat ’n metroraad meer raadslede het wat ook groter salarisse kry.

Sakkie Stoltz, voorsitter van die Roodepoortse Sakekamer (Rocci), is ook bekommerd oor die moontlikheid van verswakte dienslewering.

“Ons weet nie of dit beslis gaan gebeur nie, presies wat die nuwe grense sal wees nie en, as dit gebeur, wat die gevolge sal wees nie.

“Aan die een kant sê mense dat Mogale se belasting in ’n swak toestand is terwyl die Johannesburgse stadsraad besig is om syne in orde te kry, en hulle is bekommerd dat Roodepoort dieselfde pad as Mogale sal loop.

“Aan die ander kant kan dit ’n goeie ding wees as ons seker maak dat alles op standaard bly in die nuwe metro.”

Nkosana Zali, woordvoerder van Mogale City, sê ’n Wes-Randse eenheidstad sal dienslewering in die streek verbeter.

Zali sê die rede hiervoor is omdat dit die belastingbasis sal vergroot, stelsels sal standaardiseer en geleenthede vir verbeterde bestuur van hulpbronne sal bied.

Die vergadering op 10 Augustus begin om 10:00 en word in die Randfontein-distrikskantoor in Imbizo Chambers, Parkstraat, Randfontein gehou.

Kontak die MAR by 012 342 2481 of deur www.demarcation.org.za.

’n Volledige voorlegging is aanlyn beskikbaar by www.daroodepoort.co.za.

 

 

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
bottom