Saterdag 19 April 2014
Tuisblad / Nuus / Skole-regulasies kwel

Ouers van leerlinge wat volgende jaar met gr.1 of gr.8 begin, het minder as 14 dae oor om kinders by ’n laer- of hoërskool van hul keuse in te skryf of anders loop hulle die gevaar om in ’n ander skool geplaas te word.

Nuwe toelatingsvereistes by laer- en hoërskole stel die onderwysdepartement in staat om skole se taalbeleid en die leerlingtal waarvoor beplan word te verander.

Die departement sal bestuursrade kan systap en regulasies oor die onderrigtaal kan afdwing. Leerlinge kan ook geplaas word in ’n skool van die departement se keuse, ongeag dié skool se taal of toelatingsbeleid.

Die nuwe regulasies is onlangs in ’n buitengewone provinsiale koerant aangekondig.

Volgens adv. Pieter du Plessis, voorsitter van die Hoërskool Roodepoort se beheerliggaam, is dit grootliks in stryd met die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996.

“Ek sien gevaar as die departement die wetgewing wil misbruik om agendas na te jaag, want die regulasies sal hulle absoluut steun as hulle dit wil doen. As hulle egter verantwoordelik optree, kan dit baie positief wees vir almal,” sê Du Plessis.

Die burgerregtegroep AfriForum het in Januarie die veldtog Red Afrikaanse Skole van stapel gestuur om Afrikaans as onderrigmedium in skole te behou.

AfriForum het dié veldtog begin omdat leerlinge wat in Engels onderrig word, volgens die organisasie dikwels in Afrikaans-mediumskole ingedwing word en die skool dan hoofsaaklik op eie koste na parallelmedium moet omskakel.

“AfriForum is gekant teen enige beleid wat die magte van skole en beheerliggame inperk,” sê Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum.

Registrasies vir nuwe leerlinge sluit op 27 Julie. Du Plessis waarsku die nuwe wetgewing kan ’n dilemma veroorsaak as ouers nie betyds aansoek doen en ’n eerste en tweede skool as opsie uitoefen nie.

Kinders binne bepaalde gebiede kry voorkeur by skole in daardie gebiede en kinders wat ’n skool wil bywoon buite die gebied waar hulle bly, word op ’n waglys geplaas.

Kinders in ’n bepaalde voedingsgebied wat nie betyds aansoek doen nie, loop die gevaar om deur die distriksdirekteur by enige skool geplaas te word. Hy moet egter in ag neem watter skool die naaste aan die leerling se huis of sy ouers se werkplek is sowel as wat die skool se kapasiteit is.

Dié regulasies bepaal ook dat alle leerlinge wat aansoek gedoen het, binne 45 skooldae ná die aansoeksluitingsdatum dus 1 Oktober by ’n skool in die provinsie geplaas moet wees.

Volgens Du Plessis moet die volle vermoë van ’n openbare skool benut word, anders kan parallelmedium-status op skole afgedwing word.

“Gaan doen eerstens aansoek by ’n skool van jou en jou kind se keuse, maar gaan doen ook aansoek by ’n ander aanvaarbare skool naaste aan jou woon- of werkplek, sodat jy ’n plan B gereed het,” sê hy.

Du Plessis sê die onderwysdepartement het Roodies verlede jaar probeer druk om parallelmedium te word, maar nie daarin geslaag nie omdat ouers hulle daarteen verset het.

“Dit lyk of die departement die druk om parallelmedium (dis ook jou duurste onderrigmedium) te word vir eers skuif na skole in Randburg en Linden, asook die Laerskool Fairland.”

Daar is blykbaar te min Engels-medium skole vir Engelssprekende leerlinge in dié omgewing.

“Die departement het hom dus nou so geposisioneer dat skole ‘wettig’ gedwing kan word om parallelmedium te word,” sê Du Plessis.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Paasnaweek
Wat is julle planne vir die Paasnaweek?
Ons bly rustig by die huis.
Ons gaan by die huis werskaf.
Ons kry kuiermense.
Ons gaan weg! Lekker!
top
bottom